Friday, December 31, 2010

2010 se briefies uit die verre

10 Okt 2010.
WONDERLIKE NUUS!!!

Stella is gebore 10/10/10 om 17h46, weeg 4.1kg, is 53cm lank met koppie 35cm in omtrek. Sy is gesond en pragtig!!! Alle eer en dank aan die Here vir hierdie wonderlike geskenk;) Baie dankie vir jul gebede en mooi woorde, jul vriendskap word opreg waardeer en ons sien uit dat julle haar kom ontmoet!?
Ons is in St. John of God hospitaal, Subiaco, Perth in Saal 53, kamer 21.
Skakel gerus; kamertelefoon: +61 8 9382 6282.
Hospitaal besoektyd is streng 15h00 tot 20h00 en jul is baie welkom om dan te kom kuier!!! Albei ons iPhones is by ons met Gmail, Facebook en Skype, bel gerus?!!

Baie liefde, Christo, Anja en Isabel
C +61 42 900 0117 en A +61 42 810 4396


~ ~ ~

23 Aug 2010.

Hallo geliefdes!!

Ek is so bly dat ek vir julle geskenkies kon stuur en dat julle daarvan hou!!

Vanoggend is ek besig met huisskoonmaak, harde werk met ‘n ongemaklike groot maag! So nou drink ek ‘n tee en tik gou vir julle ‘n briefie…

Ai, ek kan nie ophou verlang en dink aan hoe wonderlik dat sal wees om julle hier by ons te he nie?! Nou wag ek maar totdat julle kom kuier.

Isabel is besig om buite te verf mooi gekleurde strepe (paaie) op ‘n groot A3 papier wat teen haar bord vas is. Sy is baie ingenome met haar kamer en is opgewonde da tons vanaand die plakkers en muurstrook gaan plak nadat dit vanoggend vroeg hier afgelewer is. Stella s’n is ook pragtig en mooi helder sodat dit mooi by die beddegoed gaan pas. Kan nie wag om die eindproduk te sien nie.

Dit is bewolk dan sonnig hier vandag en die weervoorspelling het vir vandag tot Woensdag koud met reen, seker oppad. Dit is nou 15’C, tog voel dit glad nie so koud nie en sit ek voor ‘n oop skuifdeur.
Die grootste NUUS hier is dat die verkiesing in Australie opgeiendig het as “hung parlament” wat beteken dat hulle 50/50 deel het en daar dus ‘n keuse gemaak sal moet word deur 6 individue wat onpartydig is… weet nie presies hoe dit werk of hoe lank dit sal neem nie?

Ek gaan nou broodjies maak vir Bellie en my en dan gaan ek moet begin met my strykwerk… het Donderdag se bondels om ook in te haal voordat die nuwes droog is. Sal dan stofsuig en dank an Christo mop vanaand, hy doen dit so goed. Hy sal ook vanaand natuurlik moet help met die plakkers en veral die muurpapierstrook.

Die posman op sy motorfiets het sopas die pakkie afgelewer……
BAIE DANKIE OUPA EN OUMA vir die mooi plakkerstorieboekies vir Isabel en die oulike kousies vir Stella!!
Ek sal die lappies nou mooi by enige bybehore kan pas en is baie opgewonde om dit te kry, mamma is so talentvol met naaldwerk en ek sien dat dit sover STUNNING is!!!

Lief vir julle xoxoox



~ ~ ~

12 Aug 2010.

Hallo aan al ons geliefde vriende en familie in mooi Suid-Afrika:)

Met ons hier in Perth, WA gaan dit baie goed! Ons bekers loop oor en ons kan aanhoudend vertel dat die Here baie goed vir ons is!!

Ons geniet lieflike sonnige warm weer en voel die afgelope week asof die lente hier is. Daar is reeds bloeisels aan sommige boomtakke! Vanaf gisteraand reën dit aanhoudend saggies en word die plante goed natgemaak. Ons is gelukkig en tevrede in ons eie huisie en baie bly oor die tuintjie wat ons nou goed kan benut. Beplan ‘n groot mooimaak plantsessie sodra ons ‘n kansie het.

Ek is nou 30 weke swanger en besef die spoed van tyd opnuut, het min tyd oor om alles gereed te kry vir ons nuwe babadogtertjie, Stella. Baie opgewonde om haar liefde te gee!!! Haar kamertjie staan tans vol ekstras en daar is nog bokse met Isabel se babaklere wat uitgepak moet word. Die idee is om te kyk watter klere ek weer kan gebruik en om dit vir haar reg te kry. Christo gaan die kamertjie mooi verf en ons wil ook wit gordyne en blindings insit. My talentvolle mamma is besig om met die pragtigste lappe in pienk, oranje en geel met blomme beddegoed te maak wat sy hierheen sal pos sodra dit gereed. Intussen beplan ek om blomme op die mure te verf/plak en uit die dak te hang. Daarom dat ek vinnig my litte sal moet roer om betyds klaar te kry!!!? Hou duim vas!

Isabel is ‘n vreugde en ons geniet al haar oulike sê-goed en waardeer dat sy luister en soet is. Volgens haar is sy ‘n prinses en ‘n “groot” dogtertjie wat vir alles kans sien en self kan doen. Sy het twee Sondae terug by ons kerk na die ‘Little People’ klassie (3jr-5jr) geskuif en is baie trots op haarself en bring gretig haar lessies en prentjies huistoe om te wys. Daarby praat sy die mooiste Engels heeltemal uit haar eie, sy is waarlik talentvol daarin, want sy praat pragtig Afrikaans en nou ook Engels. Ons praat glad nie met haar engels nie, alhoewel ek haar sal reghelp wanneer sy verkeerd praat of byvoorbeeld direk vertaal soos.. tak na “tack”, bene na "beens", ensovoorts;) Sy sing en dans ook pragtig en gesels heerlik wanneer sy met haar speelgoed speel. Ons is geseënd met ‘n pragtige en slim dogtertjie wat ons van baie spesiale oomblikke voorsien.

Met Christo gaan dit ook steeds goed en hy geniet die projek wat hy vir Rio-Tinto doen. Hy kom meeste aande teen 17h10 tuis omrede ons gerieflik naby die stad bly en die busdiens van hoek van ons straat tot voor sy kantoor ‘n roete het. Sodra dit soggens warmer is, sal hy weer begin fiets trap. Ons bly om en by 6minute uit die stad en soms sal ek en Isabel hom gaan ontmoet vir middagete, Vrydae aande laatwinkels of hom sommer net na werk gaan oplaai.

Ons het op Saterdag, 31 Julie gesinsfotos laat neem en die liefde en vreugde wat daar tussen ons is is waarlik vasgevang daarin;) Gaan kyk gerus op Facebook sodat julle herinner kan word aan hoe ons nog lyk: http://www.facebook.com/album.php?aid=203087&id=646042062&l=4d9f363ff6 die fotos is ook beskikbaar op Picasa Webalbums vir die wat die fasiliteit het;)

Weet ons dink steeds aan elkeen van julle en verlang na ons gereelde kuiers en om die daaglikse lewe daar met julle te deel. Baie dankie aan elkeen van julle vir jul vriendskap en die spesiale plek wat jul in ons harte ingeneem het.
Waardeer elkeen van julle en is baie dankbaar en geseënd om julle te ken!!

Vriendskap is 'n kalmeermiddel sonder newe effekte.
'n Sielkundige sessie sonder tariewe.
'n Liggie sonder krag onderbrekings.
'n Geskenk sonder blinkpapier.
Liefde sonder grense.
Vertroue sonder vrese.
Vriendskap sonder vereistes en voorwaardes.
'n Geskenk van die Here!
Dankie vir jul spesiale vriendskap!!
xx

Bly asseblief in kontak en laat weet hoe dit met julle ook gaan?


~ ~ ~


2 Jun 2010.

Dit gaan baie goed met ons hierso.. ek is so bly dat die Here my gemoed en hart verander het om nou tuis hier te voel en regtig gelukkig te wees! Ek is so geseënd met baie oulike vriendinne en geniet ons kerk, Riverview Church en om deel van die “worshipteam” te wees en in koor te sing so baie. Ons kerk se preke is wonderlik opbouend en leersaam en ons groei met elke keer wat ons bywoon. Dit is so mooi rondom ons en daar is soveel dinge hier om te geniet. Christo is baie gelukkig en tevrede by die werk en ons spandeer heerlike gesinstyd saam. Al wat kort is ons familie en ek bid en vertrou dat die Here sal voorsien in ‘n oplossing sodat hulle nog by ons sal aansluit… Dit gaan goed met my ouers en Lukie en ek hoop dat hulle een van die dae sal kan kom kuier. Dit is vir hulle baie swaar en ons verlang baie na mekaar. Gelukkig is daar in vandag se tyd geriewe soos Skype, internet, epos, en spesiale tarief internationale foonoproepe sodat ons lank en gereeld met mekaar kan gesels en Isabel vir Oupa, Ouma en Oom kan sien, wat sy baie geniet;)
Dit kom voor of die winter nou ook in Perth opgedaag en die temperature wissel tussen 19’C en 22’C met bewolkte sonnige dae of reen. Meeste van die blare aan die bome in die straat is nou verkleurd of die takke staan leeg, alhoewel die ene voor die huis nog baie groen is. Die gras raak al groener en die winterblommetjies wat ek in potte en tuin geplant het groei mooi. Die roosbome het ongelooflik pragtig geblom, maar het nou weer ‘n snoei nodig. Die windjie is koel, maar die winterreen en windstorms het nog nie opgedaag nie.

Ons is baie opgewonde oor die huisie waarvoor ons ‘n aanbod ingesit het en behoort teen die einde van die week te weet of die bank ons lening deurgesit het. Dan moet ons nog ontrent maand wag vir oordrag. Miskien trek ons voor einde Julie nog in, sal wonderlik wees;) Die bank het vooraf goedgekeurde lening gegee en ons moet 5% kontantdeposito gee. Ons dink om dan die res van ons kontant oor van Suid-Afrika, te gebruik vir nuwe houtvloere onder en matte bo en hopelik is genoeg oor vir die badkamer. Soos ek reeds voorheen verduidelik het is ons tans sentraal Perth naby aan stad. Gardnerstraat in Como (deel van City of South-Perth) het pragtige groot bome en grens aan die baie gesogte en duurder South-Perth voorstad wat aan die Swan Rivieroewer is. Ook naby aan baie goeie skole, oulike winkelstrate, sportsklubs, parke, golfbaan en die dieretuin, gerieflik baie toeganklik aan hoofwee en snelwegafrit (regtig wonderlik gelee, sien satelietkaart). Alhoewel dit op die internet nogal klein lyk; http://www.realestate.com.au/property-townhouse-wa-como-106380817 is die 3 slaapkamer, 1 badkamer met apparte toilet, oulik ruim uitgele en is ons so bly dit het erf met gras (skaars)! Het reeds baie drome en planne vir die plekkie. Die planne se dat die huis gebou is in 1975, ons hou van die donkerbruin dakbalke, trappe, loodglas voordeurvensters, al hierdie dinge gee soveel karakter.

More is ek 20 weke swanger, HALF PAD!!!Ons is ook baie baie opgewonde oor ons prinsessie wat haar opwagting om en by 19 Oktober gaan maak. Ons gaan haar Stella noem, wat latyns is vir ster en ek glo sy gaan ‘n uitblinker wees! Ons sien baie uit om haar te sien! Was laasweek Donderdag vir “ultrasound” en dokter het deeglike lang sonar op dvd gesit en ek sal binnekort die fototjies van ons -om en by- 350g, 15cm mooi gesonde dogtertjie plaas! Isabel gaan haar sussie so geniet en sy wys gereeld vir my hoe sy vir Stella SELF gaan dra en maak dan ‘n wiegbeweging met haar armpies. Sy is so oulike dogtertjie en BAIE BAIE slim, ons geniet haar baie. Ons het oor die naweek vir haar ‘n pienk en pers skopfietsie gekoop waarop sy lekker ry… Christo het ‘n toeter ook opgesit wat sy aanhoudend toet;) sy speel heeldag met haar speelgoed en poppies en gesels en vertel oulik soos sy speel. Meeste oggende kom sy tussen 5 en 6vm na ons bed. Christo soengroet ons albei 6h45 voor hy vir werk vertrek en wanneer ons dan 7vm wakker word en ek my oe wil toehou, se sy: “Die son is op mamma, word wakker, maak jou ogies oop?!” dan vra sy vir “rooibostee”. Dan maak ek/sy die gordyne oop en wanneer ek klaar rooibostee gebring het, sit sy (ewe soos ek) die kussing teen die kopstuk regop en sit en drink terwyl sy by die venster saam met my uitkyk. Die gewoonte is om haar dan te vertel hoe mooi die Here ons en aarde gemaak het en verwys na die mooi kleure in die lug en wolke en soek ons voeltjies om haar te leer om vir al die dinge dankbaar te wees. Daarna sit ek die televisie aan vir kort nuus en weer en teen half 8 begin ons aantrekJ Wat ‘n wonderlike seën om my oggende so te begin. Ek koester elke oomblik wat ek nog alleen saam met Bellie het en gee haar soveel aandag as moontlik;)
Ek het ook begin om vir Isabel op Maandae oggende 9h15 na Musiekklassie hier naby te neem. Sy geniet dit baie!! Ons speel instrumente op ritme met musiek, doen ‘n dans/aktiwiteits-liedjie en luister na ‘n storie. Sy is baie gretig om te help oppak of aan te dra en aan die einde van die klassie kry hul elk ‘n stempel en plakker waarvan Isabel natuurlik BAIE HOU!!! Sommige Vrydae neem ek haar na KindyGym toe wat deur die Aus Gimnastiek aagebied word saam met my vriendin Karien en haar dogtertjie, Karli. En dan is daar natuurlik kuiers by al haar maatjies, die parkies en ander buitelewe dinge hier om haar meer besige te hou gedurende die res van die week. Ek wil haar graag volgende jaar inskryf vir balletklasse en Saterdagoggend swem saam met haar pappa vir die somer.

Ek het altyd iets waarmee ek besig is en wanneer ek nie iets aan het nie, moet ek huisskoon maak. Hier is huishulp net vir die super rykes en dan word die minimale gedoen. Darem is ek nou al gewoond daaraan, dit is net die strykwerk wat my steeds kniëhalter en waarvan ek NIKS hou nie en gereeld agter raak!!!

Weet ek dink nog gereeld aan julle…

1 comment:

Anonymous said...

Die koninkryk van die hemele het naby gekom.
God het jou lief. Lees jou Bybel.