Wednesday, August 19, 2009

Ons eerste briefie uit Perth.. 7Jan2009


(sien meer fotos in album op facebook)

7 Januarie 2009

Hallo almal!! Hoe gaan dit met julle? Laat weet spoedig van al jul nuus?!! Ai, ek wonder partymaal of ons ooit moes gekom het wanneer ek so verlang en wens ek kan spesiale tye saam met geliefdes spandeer! Mis uit op soveel dinge uit daar in SA! Ons kuiers wat so lekker was!

Dit gaan goed hier met ons:) Ek laat weet nou eers weer van my, omdat ons ons seevrag krat vroegoggend op 31 Desember ontvang en het ons die ou jaar en nuwe jaar gevier het met 'n groot uitpakkery! Ai, my hart was baie seer, terwyl ek aan mense en oomblikke gedink het soos ek ou en nuwe geskenkies en ander goeters uitpak wat my daaraan herinner. Het steeds 'n paar bokse wat ek nog moet uitpak en darem bly dat Christo hier was om te help met die meeste daarvan:)
Op Kersdag het ons na Riverview Church gegaan en die res van die dag het ons rustig tuis as gesin spandeer. Was maar alleen sonder al ons geliefdes. Tog was dit wonderlik om Christo vir twee weke elke dag by ons te he (werk gesluit en dus verlof nou in minus:( so sal 'n ruk wees voor ons weer SA sien) en ek was hartseer dat hy Maandag weer moes teruggaan werk toe. Hy geniet en hou van sy nuwe werk. Ek dink dat hy ook alleen voel, wanneer hy vertel almal werk regtig baie hard en sit gefokus heeldag, sonder dat iemand ooit gevind word besig om te gesels oor 'n koppie koffie of middagete.
Die omgewing is waarlik pragtig hier en ons geniet die buitelewe! Tog teleurstellend is dit die afgelope ruk baie warm en die hitte is droog met die meeste dae die afgelope drie weke tussen 33-39'C. Ons gaan dus vroeg tussen 8h30-10h00 na parke en strande voor dit te warm raak! Die son skroei behoorlik en mens MOET eenvoudig hoede dra (almal doen) en sonskerm (+30SPF) as jy die buitelewe aandurf. Wil graag ons velle gesond en sonder sonbrand skade hou (en hopelik jonk ook!) Die westelike seebriesie het vroeer in Desember die warm dae koeler gewaai en saans afgekoel, maar tans word die vroee oggende begroet met 'n vreemde warm ooste vind vanuit die binneland (en ver woestyn) Ongelukkig bly dit dan warm hier en is ons lugverkoeling binnenshuis konstant aan. Die JHB somerweer met die laatmiddag donderbuie is regtig iets om baie te waardeer en ek sal altyd daarna verlang!!
Isabel is a handjie-vol en baie besig soos sy maar nog altyd was, en nog meer:) Sy groei so vinnig en praat en verstaan al soveel!! Ek is so lief vir haar en waardeer al die tyd wat ek saam met haar kan spandeer!!! Dit is vir my moeilik om haar te disiplineer en soms weet ek nie wanneer haar "tantrums"/moeilike tye is omdat sy stout is/stadium en of sy moeg/gefrustreerd aandag soek nie? Die trekkery was baie moeiliker vir haar as wat ons ooit gedink/besef het dit sou wees? Sy is so ontwrig deur ons trekkery; uit ons huis, na ouers, toe Kaap vlugte soontoe en terug, weg uit bekende SA na vreemde tydelike verblyf in AUS en toe weer trek hier na ons nuwe huis. Alles was sover vir haar vreemd en sy verlang beslis na alles en almal bekend aan haar (veral Oupa en Ouma wat s en wil eers gaan slaap wanneer die son eers 21h00 ondergaan. Sy was baie klouerig en wou glad nie alleen wees nie, asof sy bang was ek los haar. Dit was 'n groot ontwrigting vir haar en daarby het sy nadat sy einde November twee nuwe boonste oogtande gesny het, nou haar onderste twee oogtande kry en behoort binne die volgende paar dae deur te sny. Vanaf laasweek dat ons bekende goed hier aangekom het en ons uiteindelk ingetrek is, kan ek beslis 'n verskil agterkom. Sy kom seker nou agter hierdie is ons nuwe huis. Ons Skype darem gereeld om te gesles en soms met die Webcam sodat sy ook kan sien. Nou roep sy opgewonde "Oupa!" en "Ouma!" wanneer die luitoon in die huis weerklink en gesels kamma op enige foon wat sy vind.
Die strande is pragtig en ek het gisteroggend alleen saam met Isabel na City Beach so 20 minute van hier af gegaan. Sy hou baie daarvan om op die sandjies rond te hardloop, dit deur haar vingers te laat glip en te speel waar die klein brandertjies breek. Ek verduidelik en vertel reeds vroegtydig voordat ons huistoe sal gaan, sodat sy nie ongelukkig raak nie. Vanoggend het sy my toe soet toegelaat om haar droe klere aan te trek en al die sandjies van haar lyfie af te vryf voordat sy stil gewag het dat ek haar veilig in haar stoeltjie vasmaak. Netso ook die parke, sy geniet veral die glyplank en swaai. Nou sing-se sy "swaai-swaai" wanner ons verby die speelparkie sowat 300m vanaf ons huis ry. Om na die parkie toe te loop en dan te speel is vir my net soveel oefening en maak my moeg soos vir haar, omdat sy daarvan hou om vir my weg te hardloop en dan moet ek ook soms agterna klim agter die klein waaghalsige avontuursoekertjie aan om haar te beveilig!!
Ons is baie oplettend oor wat ek eet en probeer om so gesond as moontlik te wees en het 'n oefen dvd wat ek volg en stap soveel ek kan. Ek is verbaas oor hoeveel beter ons voel en hoeveel maerder ons begin word en hopelik het ek spoedig my voor-swanger liggaam terug. Wat ook help is die feit dat ek nou self al die huiswerk doen en die huis wat ons huur twee stelle trappe het. Ai, ek mis darem Josephine se hulp en die dae wanneer sy met haar spierwit vrolike glimlag haar "spring-cleaning" doen. Ek sukkel steeds om tussen deur die normale daaglikse en weeklikse skoonmaak, tyd te vind om vensters, "scurting boards" en al die wegsteek plekke te was en skrop. Ek hou mos maar van 'n netjiese, georganiseerde en skoon huis en vind dit moeilik om dit so te kry en dan so te hou met 'n klein woelwater wat om my speel en deurmekaar krap. Wens dan Josi kon steeds kom help om steeds een maal per week behoorlik skoon te kom maak. Want ai, sodra ek skoonmaak of een van hierdie laaste bokse probeer uitpak wil sy ook, en alhoewel sy dit geniet en dink sy help my, doen sy nie!!! ;) Ag wat, dit hou my besig..
Christo hou die klein tuintjie, met beddings en plaveisel netjies onkruidloos en die motorhuis netjies en motor skoongewas. Die karwasserye waarby ons verby ry, is "self-serve", so jy betaal so $A8 om hul gereedskap te gebruik en tog jou motor dan steeds self te was:/ Hier gooi mens ook self brandstof in en ek moes iemand vra om my te wys wat seker gedink het ek is 'n regte dommie, want dit is so maklik!! Meeste mammas bly daarom self tuis om na hul kinders te kyk en maak hulle eie huise skoon volgens een van my nuwe vriendinne, Rene. Sy het vroeer uitgevind en my vertel dat "day-care" vir kinders duur is teen $A60/dag met min plek beskikbaar, omdat daar nie veel van hulle is nie. En om 'n huisskoonmaker te kry ook duur is, teen $A20/uur.
Ons het al 'n klompie mense ontmoet, maar sover twee SA Afrikaanse vroutjies uit. Ons het baie in gemeen en nie, wat goed is en ons gesels heerlik:) Ek en Karien wat reeds 3jr in Australie bly kuier sover baie lekker saam en het ook al drie maal saam met ons mans ook gekuier. Haar man, Chris is 'n elektriese inginieur en hul dogtertjie Karli, is 10mde oud. Hulle is baie oulike mense en ek verwag dat die reeds vriendskap nog sterker sal groei:) Rene en ek het by 'n "moms'get-together" ontmoet en gesels van toe af baie op die foon en het ook al vele "uitstappies" saam met haar vriendin Lana meegemaak. Die dogtertjies; Rene se, Kaylah en Lana se, Aspen is albei amper ewe oud en nou kan ons drie dogtertjies saam speel, tog alhoewel hulle ouer as Isabel se 17mde is, is sy baie besiger en meer avontuurlustig as hulle altwee saam:) Rene en ek beplan ook om 'n naweek kuier saam met ons mans te reel. Christo en ek het met die Kersdag diens by Riverview Church in die 'parentsroom' 'n ander paartjie ontmoet en het hulle by KingsPark se speelarea ontmoet en beplan weer gou nog 'n kuier. Eugene en Chantel kom het twee kinders; 'n dogtertjie Dianne van 4 en seuntjie, Christiaan van 22mde. Die Here is regtig so goed vir ons en ons het reeds baie kennis, raad en hulp deur al hierdie mense ontvang, soms sonder dat hulle eers weet:)
Sondae is moeilik vir my en ek begin elke keer tydens/in kerkdiens huil wanneer ek aan al die mense en dinge waarvoor ek omgee en lief is dink. Sover het ons meerderheid Sondae na Riverview Church gegaan en het tussenin ander kerke ook besoek. Ons het gedink ons sal by Riverview aansluit, maar is nou nie meer seker nie en wil nog 'n bietjie soek voor ons 'n kerk ons nuwe "huis" maak en aansluit. Het regtig nie gedink dit gaan so moeilik wees nie!! :( Riverview het 'n baie groot aantal mense en hou vyf dienste oor die naweek (2 Sat en 3 Son) Daar is wonderlike kinder fasiliteite; 'n "parentsroom" waar jy self na jou kind kan kyk met die diens op tv of "little poeple" oppassers geriewe wat beteken dat ek al in twee dienste kon sit en luister (met 'n "pager" wat wiebreer wanneer hulle my benodig vir Isabel). Tog bly mense vreemdelinge en alhoewel die preke sover baie goed was, bleik die kerk vir my effe "kommersieel", miskien nie???. Daar is 'n kerk in ons buurt, South Perth Church of Christ en alhoewel ons al by 'n 8h30 en 10h30 diens was, was daar meestal meer oumense in die kerk. Die Perth Afrikaans Reformed Church het nie veel lewe gehad nie en and was soos 'n baie ouer NG kerk. Nou wil ons nog kerke vind en besoek. Bid asseblief vir ons om 'n kerk te vind waarby ons tuis voel en waar ons kan deel word en deelneem. Wil so graag he die Here moet vir ons 'n plekkie wys/voorsien. Tensy ons dalk ons harte/siening moet verander en moet vasbyt by Riverview, want ek besef dit behoort lank te neem voordat ons weer so tuis en "familie" voel soos by London Road Church en dit maak dit so moeilik om gevoelens te vertrou? Tog so bly vir al die herinneringe wat daar vir ons is en al die goeie veranderinge wat agv LRC in ons lewens plaasgevind het. Vertrou die Here sal sorg!
Hoop dat ek gou 'n epos briefie met nuus van jou ook sal ontvang?!
Bly in kontak!? Ons verlang:)
Liefde en 'n groot druk!!

No comments: